Openbaring- teken van hoop

[ Follow Ups ] [ Post Followup ] [ How Near Armageddon Forum ]

Posted by Chris van Zyl on January 12, 2010 at 16:05:49:

Hallo almal, ek wil net se ek geniet die gespreksforum terdee. Baie dankie vir almal wat positief bydraes lewer om (1) mekaar bewus te maak van die liefde, en onverganklikheid van God, asook (2)die hoop en vrede wat dit vir ons as gelowiges bring om mekaar geestelik te versterk in die laaste dae. Laat ons werklik daardie geloofs-gemeenskap met mekaar volhou en mekaar in moeilike tye opdra aan Onse Vader. Dit is immers 'n opdrag van God. Sy belofte van trou en sorg vir sy volk bly vir ons 'n ewige troos.

Nogmaals dankie, Dr Jansen vir wat u bereid is om te deel met ons. Ek bid Gods rykste seen vir u.

NS: Ek het 'n deeglike studie gedoen van u boek "Ek is die begin en die einde - Die verborge tydmeting van Openbaring" en sal die tydlyn graag eendag met u persoonlik wil deel. Ek en my bure kan soms ure saam opgewonde praat oor die inligting wat beskikbaar gestel word.

Hieronder my "persoonlike getuienis". - Miskien kan dit vir iemand anders iets beteken. Ek sal verstaan as u dit nie kan plaas nie, as dit te lank is of so... Ek weet hoe dit voel as jy iemand probeer verduidelik dat jy duidelik 'n visioen vn God gehad het en mense "gaan maar net aan".

Groetnis
Chris van Zyl

Ek wil nie vandag oor myself praat nie en dit wat met my en my gesin vir sowat 5 jaar van ons lewe gebeur het nie. Ek het soms gedink: Dit is eenvoudig gestel ;een woord : HEL. Ter agtergrond maar net dit: Ek is saam met familie en vriende verneuk in ‘n groot saketransaksie deur vooraanstaande sakelui, waar ons jarelange se hardverdiende inkomste as lenings beskikbaar gestel het om groot ontwikkelingsprojekte plaaslik te inisieer. Maar dit daar gelaat. Kort van die lank het dit ons as gesin in ‘n krisis geplaas vir sowat 4 jaar, want om in vandag se tye ‘n leeftyd se finansiële verlies op te maak is bykans menslik onmoontlik. Maar min het ek geweet dat hierdie bergpad wat ons sou moes klim, later vir ons die land Kanaan sou wys op die horison. En ek het besef jy kan eers die dag werklik besef wat genade is, wanneer jy besef hoe afhanklik jy is van die Grote God. En dan kan jy begin om terug te gee – dinge wat jy nie met geld of sukses of roem kan verwerf nie, maar iets van jouself – soos wat Christus Homself vir ons gegee het. Dis wat God van ons vra, jou lewe, jou hande jou voete jou stem jou hart jou siel en verstand- jou hele lewe. So sê Hy in sy Woord : Gehoorsaamheid is beter as offerhande.

Ek is van nature ‘n introvert, soos met ‘n Aaron wat niks daarvan hou om voor ‘n skare mense te praat nie. Ek het altyd geglo ek kan nie. Ek het die grootste respek vir daardie mense wat so maklik voor die kansel gaan staan en openlik getuig. Ek het altyd gewens dat ek ook eendag so sal kan getuig van God se liefde en sy grootheid en genade. So glo ek daar sit ook ander mense soos ek in die kerkbank – mense wat worstel, mense in krisis, mense wat ook al gevra het: Waar is dié grote God waaarvan almal dan so Sondag-vir-Sondag sing? Hoekom gebeur daar soms onverklaarbare dinge en dit juis met my? Hoeveel nog Here? Net ‘n bietjie makliker asseblief. Ek het ook ‘n paar keer uitgeskree: Here, laat dié beker asseblief by my verbygaan. Maar ek moes ook leer om te gryp en styf vas te hou aan daardie dinge wat my kon vas-anker, wat vir my diepste siel weer berusting kon bring, nadat ek my eie krisis beleef het. En dan besef jy dat mislukking nie is wanneer jy platgeslaan word nie, maar mislukking is wanneer jy weier om weer op te staan. En juis wanneer altwee jou bene onder jou uitgeslaan word, dan… dan staan jy op jou knieë voor God. Deur daardie kaalvoet- “worship” sal jy God opreg leer ken en innig liefkry. Dis waar jy krag vind vir jou lam bene.

Ek was soms moedeloos, verward, verbitterd, kwaad, verwytend, teleurgesteld, ontkennend leeg en stil, baie stil. Eers later het ek besef hoeveel God vir my werklik in die proses geleer en gevorm het. Vandag wil ek poog om ‘n boodskap van hoop oor te dra, aan ander wat miskien met soortgelyke situasies worstel. En ek wil vir jou van hoop vertel - Hoop – die ergste ding in die lewe om te verloor. Dit is hoe ek, soos baie ander kruiselinge, ook moes wag op onbeantwoorde vrae. Mettertyd het ek vrede gevind soos wat slegs God op die regte tyd perspektief kon gee van sy volkome liefde, nabyheid en unieke plan met elkeen. Hou dus op om terug te kyk na waar jy was, maar kyk na waar jy kan wees. Jy is baie meer werd as ‘n soutpilaar, Koningskind. En onthou, die waarheid is die geheim van alle deugde, die grondslag van alle morele gesag en die essensie van die lewe(Amiel). Daardie dag as jy so leeg voel, sal jy éérs besef hoe God se liefde jou kan versadig, Maar God se beskikking in menselewens en die menslike verantwoordelikheid komplimenteer mekaar in moeilike omstandighede. ‘n Teesakkie kan slegs geur afgee as dit in die teepot met kookwater gegooi word.

Ek het mettertyd besef dat ‘n krisissituasie gelukkig net tydelik is, soos ‘n vuur wat brand en jou louter wat jy soms moet deurmaak om anderkant te kan uitkom as die goudste smeltkroes. Dan kan jy skitter soos die blinkste pêrel in die koningspaleis. En as jy soms terugkyk, kry jy perspektief . Jy is soms skaam dat jy so oorreageer het. Ons vergeet waaroor ons nog dankbaar kan wees. So byvoorbeeld gaan ons soms gal-af oor kinders grootmaak. Hulle sê die enigste verskil tussen die tandekry-stadium en die tiener stuiptrekkingskrisis is die groen doek., Of jy worstel oor die keuse van ‘n leier of ‘n strategie , die uitslag van ‘n kompetisie, die mislukking van ‘n saketransaksie, teleurstellende eksamenuitslae, die ineenstorting van iemand se gesondheid, die verlies van ledemate tydens ‘n ongeluk, of die gemis van ‘n geliefde na sy dood. Dit voel so asof dit nie met jou mag gebeur nie. Jou hele klein wêreldjie stort vir die oomblik in duie. Maar hierdie dinge gebeur, want die wêreld is ‘n gebroke plek, vol feilbare mense. Satan buit hierdie situasies uit. Satan stel sy visier op die kinders van God.

In die afgelope paar jaar het daar ook onverklaarbare dinge met my gebeur. Ek glo egter ek het ‘n visie van die Here gekry om my ervarings en gevolgtrekkings rondom die gebeure neer te skryf sodat ander mense in krisisse iets daaruit kan ervaar wanneer hulle met hul eie “hoela-hoop” vrae worstel. Want in dié proses het ek besef hoeveel mense rondom my met seer loop, mense wat veel erger dinge beleef het. Meer nog; ek het ook gesien hoe sekere mense krisisse kon verwerk en ander gladnie. En hoe meer ons dit soms probeer verklaar, hoe moeiliker raak dit. In die omgeegroepe waaraan ek behoort het, het ek besef dat elke mens een of ander tyd ‘n krisis beleef, of jy nou ‘n doktor, lektor, professor of ‘n gewone tor is.

Ek het ontdek dat baie mense in krisisse so baie verloor, buiten fisiese verlies… dinge soos selfrespek, selfbeeld, sin vir waardes , moed en lewenslus. Maar die dunste elektriese draad verbind nog steeds negatief met positief. En bowenal is dit net daardie iets, daardie stem wat jy so af-en-toe wil hoor: Jy’s “oraait”. Jy’s op koers, maar volg die padaanwysers. Daardie krag het ek gevind deur te gaan delf in die Woord. En ek moes die beloftes my eie maak. Ek moes dit in my hart wegbêre. Ek het gevind dat God nooit toelaat dat ‘n deur gesluit sal word sonder dat daar vir jou ‘n oop venster gewys word, waardeur jy iets van sy genade en almag kan sien; iets wat jy miskien nooit sou gesien het nie in jou haas waarmee jy die lewe so dikwels stormloop, veral in ‘n krisissituasie.

Een Sondag-aand het Annelise Widd vir ons gesê: Kyk na Zimbabwe, teken van wanhoop en verlorenheid. Skryf ook jou dik swart letters aan die een kant, woorde van stryd, konflik, teleurstelling, swaarkry, haat en verbittering. En aan die anderkant van die muur…skryf jy die rooi letters van oorwinning, vergifnis, vrede, vreugde, liefde en bemoediging neer. Het jy dit al gedoen? Maar ek het besef ek moes eers die Man aan die skadukant van my kruis raaksien ? Maar so glo ek dat die Here ‘n pen in my hand geplaas het en vir my woorde gegee het, waaroor ek nooit kon droom nie, antwoorde en tekste wat opgeborrel en oorgekook het. En dis hoe ek ook begin “skryf” het. Soms het ek laat snags geworstel. Ek het stuk-stuk antwoorde begin kry. Daar het tekste uit die Woord by my opgekom, verse uit die pen wat ek opgeneem het en besef dat dit nie vanuit myself kan wees nie. So het God my weer stelselmatig op die pad na oorwinning gelei. Ek bid nog vir wysheid oor die taalreëls en spelling, want u moet darem besef ek het in 1978 Afrikaans matriek geskryf. Daarna was ek in ‘n syferrigting. So ek glo hierdie opdrag bly vir my ‘n spesiale geskenk van God. Baie daarvan kan ek nie verklaar nie, maar ek weet dat God dit al wonderbaarlik gebruik het om my en selfs ander mense in krisisse te ondersteun en te bemoedig. So het dit dan ook my bediening geword stil-stil, op my… nee, God se manier. So…Koningskind weet: jou krag kom van Bo. Daarom, in jou krisistyd, fokus op God. Moenie op mense en aardse goed vertrou nie.

Ek onthou een aand baie laat in my huis toe Ds Danie O’Kennedy vir my gesê het: “Chris, ek sien nie meer daardie Chris met die “spark” nie.” Voel u ook soms sonder “spark?” En toe besef ek dat ek eendag vir die wêreld moet vertel: Ek het tienvoudig terugontvang van dit wat ek verloor het en dat daar so baie lig vir my oopgegaan het in ‘n donkere tyd van my lewe. Een Sondag-oggend het ‘n gemeentelid, Gerrie van Niekerk in die erediens verslae vorentoe gestap, die oorblyfsel van ‘n stukkie papier uit sy sak gehaal – ‘n stukkie papier wat hy opgetel het in ‘n plakkerskamp in Lwandle, buite Somerset-Wes, na ‘n verwoestende brand, vroeër daardie oggend. Wonder-bo-wonder het die stukkie papier verbrand tot by die woorde: “Bates en Laste” daarop. Dit was so asof die Here daardie oggend vir ons ‘n spesiale boodskap wou gee: Kom terug na My en los die oorbodige. Jy kon ‘n speld in die kerk hoor val. So kan ek aangaan om na voorbeelde te verwys van die afgelope paar jaar in die Helderberggemeente waar die bemoediging en getuienis van medegelowiges ‘n mens gedra het. En daar het ek opnuut die waarde van “fellowship” besef.

My liewe vriend, het jou huis al ooit inmekaar getuimel, na ‘n liefdesteleurstelling, ‘n verbrokkelde huwelik, die skielike dood van ‘n geliefde , ‘n lang siekbed van ‘n familielid, die ongeneeslike siekte van ‘n vriend , die swerftog van jou kind, skielike afleggings by die werk, diefstal van ‘n kosbare besitting, aanranding, ‘n natuurramp - ag sommer enige krisis. Ons sit elkeen met ‘n stuk papier…bates en laste. Het jy al ooit ‘n ernstige bate-opname gemaak van jou geestelike lewe? Tydens een informele diens het John, ‘n gestremde voor die kansel gestaan en gesê; “Al wat ek vandag vir u wil sê: Jesus het my baie lief”. Het jy dit ook geweet? Het jy dit al openlik getuig. By ‘n ander kerkgeleentheid het ‘n jong man, Marcelle , vorentoe gestap en sê: “Mevrou haal maar jou sakdoek uit, jy mag maar huil. En ons het gesien hoe ‘n groot man ‘n belydenis aflê…’n pleitroep om verdraagsaamheid teenoor daardie werkskollega, dit was namens my en jou wat so dikwels dieselfde voel. En meer nog, Jesus wil jou gelukkig sien, met die vreugde van jou hart wat oorborrel in ‘n glimlag.

Het jy ook die afgelope paar jaar iets ontdek in die lied van die berge? Het jy saam opgekyk? Het jy gesien hoe die goue sonstrale oor die horison deurbreek? Meer nog? Het jy al vir Jesus gesien? Met hierdie woorde wil ek ‘n boodskap van hoop en troos bring. En dan sal jy die Wagter sien aankom. Kyk op, op , hoër as die berge …maar dan moet jy laag buig, laer as gewoonlik, om jou sondeskuld en swakheid te kan besef. Maar bowenal, weet dat God vir jou ontsettend liefhet, ongeag wie of wat jy is… Staan jy ook soms by die voetenent van ‘n kruis, soos ‘n moeder, vrouens en disippels, destyds op ‘n klipkoppie, met verslae trane in die stof by die bloeddruppels? Kyk, jy sal alleen troos vind by daardie oop graf en die opgerolde doeke. Juis daarom kan jy opstaan en voluit gaan lewe.

Maar met al hierdie dinge begin jy op jou knieë. Gryp na die Koordlose Telefoon en hou vas aan daardie ankers- ankers wat ewig bly en nooit sal losruk nie, te midde van die woedende storms en rukwinde. Bid vir mense rondom jou, jou dierbares, jou vriende, familie, kollegas en ook vir ons sendelinge wat soms ver weggaan en onder haglike omstandighede werk. Bid dat hulle veilig sal terugkom en saam met ons kan feesvier. Kyk na die eenvoudige dinge in die skepping rondom jou en jy sal die almag van die Sorgende Hand raaksien. Besef jy dat God vir die kleinste diertjie tot die grootste kragreus sorg? Daarom sal Hy ook vir jou sorg en dra. En as jy in ‘n brandende braambos sit, wag, wees stil en weet: Dis veilig. Dit bied vir jou warmte en beskerming en lig, want dit is juis binne-in dié braambos waar die ondier jou niks kan doen nie omdat God se omarmende liefde jou sal dra en beskerm. En maak dan jou hart oop. Steek jou hand uit en roep: “Abba Vader”. Stort jou nood en kommer en vrese stil-stil voor jou Here uit. Dan sal jy innerlike krag kry. Die risiko is die moeite werd. Neem ‘n stuk papier en skryf ook vandag jou rooi letters van oorwinning neer. Dan sal jy ook by jou kersboom die mooiste kersgeskenke vind, toegebind met lint van geloof, hoop en liefde.

Ek wil enigiemand uitnooi wat ook ‘n storie in sy hart het , om ‘n pen of telefoon of bandopnemer te neem en dit vas te lê. Bid en vra die Here waar en hoe Hy jou wil gebruik; jy wat glo dat jy skaars jou mond kan oopmaak. Jy wat nie eers kan sing of handeklap of jou arms kan oplig in die erediens nie, vertel jou storie, want as jy swyg sal jy ongehoorsaam wees aan God. As jy ‘n reservoir van gedagtes het, ‘n hand wat ‘n pen kan vashou en ‘n gewillige hart, vertel dit vir die wêreld. Maak vandag gebruik van die geleentheid. Môre is dit miskien te laat. Al sou jou woorde net vir een ander persoon in die wêreld bemoedig, dan is daar ‘n engeleskaar wat sing van blydskap. Die mens is geskep om God te verheerlik deur ‘n lig vir die wêreld te wees. Mag jy ook die

vreugde ervaar as “servant of God”. Ds Solly Ozrovech stel dit so mooi as hy sê: “Deur die onpeilbare genade van God is ons nooit op ‘n plek waar ons nie weer kan begin nie.” Mag jy ook die alomteenwoordigheid van God beleef daar in jou woestynkrisis, in die leeukuil, in die brandende oond, in die diepste put, of by ‘n uitmergelende sterfbed. Gaan soek jou lewensmissie; leef met ‘n passie vir God en ‘n hart vir mense.

Dit is my opregte wens dat elke leser van hierdie boek ook krag sal kry, al is dit slegs in een vers of aspek. Die meeste daarvan het ontstaan toe ek ‘n intense drang gehad het om ernstig met God te praat. Ek het sy skaduwee gesien, sy stem gehoor en sy nabyheid ervaar. Mens, mag dit ook vir jou ‘n uitnodiging wees. Net God ken jou diepste versugtinge, ongeag daar waar jy wegkruip in jou tuin van tweifel, worsteling of wanhoop. Daarom, bly soek en jy sal vind , hou aan klop en vir jou sal oopgemaak word en bêre jou goue geskenk in jou hart: Jy is kosbaar, Koningskind want jy is meer werd as al hierdie verganklike dinge op aarde.


Dan 6:21-27 Toe hy (Koning Darius) naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?” ... Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. Hy red en bevry, Hy doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde…”


Koningskind is die tweede boek in ‘n reeks as deel van my terapie nadat ek my eie bergpad gestap het. Die inhoudelike daarvan het natuurlik gekom, oor ‘n tydperk van sowat twee jaar, soms tydens eienaardige geleenthede. Ek glo egter dit is God se unieke plan om vir my te verseker van sy almag en nabyheid, te midde van teëspoed en swaarkry. Die bogenoemde teksvers het ek een Saterdagnag gekry, tydens ‘n worsteling met God. Die boodskap daarvan is aan my bevestig die Sondagoggend toe dit as die teksvers van die dag voorgehou is. Daarom glo ek dat iemand anders ook daardie genadeseën kan ervaar wat God oor ons almal wil uitgiet. Dit was juis daardie krisisse wat my elke dag so na aan God gehou het wat my uiteindelik gedryf het tot die vaslê van dit wat God in die storm van my lewe vir my beteken het.

Vandag besef ek ook dat daar hoop is vir enigiemand in nood ongeag sy/haar omstandighede. Maar daardie hoop en troos is alleen moontlik as jy jou krisissituasie oorgee. Gee dit vir die Almagtige God en Hy sal jou wys hoe getrou Hy jou sal dra . Koningskind, mag jy ook van binne gevul word met daardie onverganklike nabyheid, liefde en krag van ons Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees..


Follow Ups:



Post a Followup

Name    : 
E-Mail  : 
Subject : 
Comments:


[ Follow Ups ] [ Post Followup ] [ How Near Armageddon Forum ]