Tweede Afr. Lesing oor Openbring

[ Follow Ups ] [ Post Followup ] [ How Near Armageddon Forum ]

Posted by Susanne Baker on April 24, 2010 at 10:49:55:


Tweede lesing oor Openbaring
Hfst. 2 – Eerste 4 gemeentes
Ons weet dat die simboliek in die briewe aan die sewe kerke nie net betrekking het op dit wat die kerke van 97nC ondervind het nie, maar dat dit betrekking het op al die kerke sedert 97nC tot vandag.
Die sewe briewe is geskryf aan sewe gemeentes in sewe baie vooruitstrewende stede. Die inwoners van hierdie stede het hul rykdom bekom deur handel dryf, industriёle bedrywighede en landbou. As ‘n mens kyk na die groot biblioteke van daardie tyd, kom jy agter dat die mense geïnterreseerd was in geskiedenis en prosa. Die regering van hierdie groot stede het geensins belang gestel in die kerke nie. Die kerke moes hulself onderhou in hierdie grootliks heidense omgewing. Geskiedkundig is dit belangrik. Dit is wat vandag ook in baie stede met die Christelike kerk gebeur. Na ‘n geskiedenis van 2000 jaar waarin die regerings van westelike Europa die Christelike kerk ondersteun en onderhou het en waar hulle hul geloof so ernstig opgeneem het, dat hulle selfs oorlog gevoer het daaroor, het hulle nou so ver weg beweeg van die Christelike geloof af, dat die kerke weer in armoede vir hulself moet sorg. Die sirkel is voltooi. Weer is die kerke klein gemeentetjies in groot vooruitstrewende stede.
Wat God gesê het oor Laodicea kan nou verbind word met Geskiedenis. Wat egter ook van groot belang is, is dat ons vandag kan identifiseer met sekere dinge wat daar gesê is. Geskiedenis word oorgedra deur die woorde van Openbaring. Dit is hierdie verbinding met die Geskiedenis wat die Goddelike riglyn van openbaring bevestig. Dr. Janson het eers die woorde van Openbaring verbind aan die Ou en Nuwe Testament en daarna het sy aanknopingspunte in die Geskiedenis van die afgelope 2000 jaar gaan soek. Op hierdie manier het sy agtergekom wat die betekenis is van die simboliek in Openbaring. So kon sy die boodskap ontrafel wat verskuil is in Openbaring.
Ons moet kennis neem van die inleidende boodskap van elke brief aan die gemeentes. Die karaktertrekke van die Seun van die mens word gebruik, waarvan sommige reeds in hoofstuk 1 gebruik is. Dit word gedoen om die eenheid van Christus met die sewe gemeentes aan te dui.
Die “sewe” gemeentes is die gemeentes in Asiё, maar die getal sewe beteken ook vermeerdering, Soos in Mat.15:35-38.- sewe brode is vermeerder en het duisende gevoed. So sal die sewe gemeentes vermeerder tot duisende.
Let op hoe Christus met Sy gemeentes identifiseer in die inleidingsboodskappe:
“So sê Hy wat die sewe sterre in Sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan”(Efese)
“So sê die eerste en die laaste wat eers dood was en weer lewend geword het” (Smirna)
“So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het” (Pergamum)
“So sê die Seun van God wie se oё soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is” (Thiatire)
So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het” (Sardis)
“So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van David het, wat die deur oopsluit en niemand kan dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie. “ (Filadelfia)
“So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het.” (Laodicea)
EFESE
Op 2:1-7 Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese:
So sê Hy wat die sewe sterre in Sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie en gevind dat hulle leuenaars is; Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur en julle het nie moeg geword nie.
Maar Ek het dit teen julle; julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink daaraan hoe ver julle al agteruit gegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle aan die begin gedoen het. Anders as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! Maar dit het julle darem in julle guns; julle verafsku wat die Nikolaiёte doen, net soos ek dit verafsku.
Elkeen wat kan hoor moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.
Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die Paradys van God is.
Efese was die hoofstad van die Romeinse provinsie van Asiё. Dit was ‘n indrukwekkende stad en die tempel van die godin Diana was daar opgerig. Dit was opsigtlik en naby die hawe. Hierdie godin was die beskermgodin van die stad. Die maak van klein replikas van hierdie tempel en godin het ‘n groot besigheid geword. Daar was ook ‘n teater wat ongeveer 25,000 tot 30,000 mense kon akkomodeer. Dit was die grootste teater wat ooit gebou was deur die Grieke.
Die gemeente van Efese word geprys vir hul harde werk, toewyding en volharding. Hulle word egter gewaarsku dat hulle hul eerste liefde verloor het. Hulle word ook gemaan om die “goeie” dinge te doen wat hulle voorheen gedoen het. Hulle word gemaan as hulle hul nie bekeer nie, sal hul lamp weggeneem word en sal hulle ophou om ‘n gemeente te wees. Hulle word geprys omdat hulle die dade van die Nikolaiёte haat.
Christus het die dade van die Nikolaiёte ten sterkste verafsku. Hierdie sekte mag dieselfde dinge gedoen het as diegene wat Balaam nagevolg het. Balaam het die eet van afgodsoffers en onsedelike leefwyses wettig verklaar . Dit was in direkte teenstelling van dit wat die kerk in Handelinge 15:20-29 as ‘n leerstelling van die kerk aanvaar het. In ‘n tyd van vervolging wanneer die eet of nie eet van afgodsoffers ‘n groot toets vir toegewydheid en geloof in Christus was, het Balaam die mense aangemoedig om die afgodsoffers te eet en gesê dat dit geen afbreek aan hul geloof sou doen nie. ‘n Groter boosheid was die feit dat hulle deelgeneem het aan heidense rituele orgies en dat hulle dan hierdie “vuilheid” die kerk binnegebring het. Daarom het God dit as “lewe” in ‘n kerk geag as hulle hierdie dinge haat, ten spyte van die feit dat hulle nie meer die ‘goeie” dinge van die verlede doen nie.
Die Nikolaiёte se nalatenskap was die voorloper van die Gnostiese beweging. In die religieuse en intellektuele atmosfeer van die stad het hulle hierdie teosofiese (filosofiese behoeftes van mense) beweging aangehang, want dit het al die elemente van die godsdiens bevat en wou ook ‘n godsdiens wees. Dit het die filosofiese behoeftes van mense bevredig. Dit was ‘n poging om die verskillende godsdienste en heidense filosofieё en sektes met mekaar te versoen. Die Christendom kan nie hierdie idees akkomodeer nie, want die gedagte dat die mens deur sy eie vermoё en kennis van die heelal, die onsigbare kragte van die bose op aarde kan oorwin, staan in direkte teenstelling met die Christen se beginsel dat slegs God dit kan doen. (ons sien dit vandag weer in die bewegings, waar alle gelowe gelyk geag word.)
As Christus die vroeё kerk oor hierdie tendense gewaarsku het, is dit logies dat dit vir vandag ook sal geld. God het dus geweet dat hierdie gedagterigting die Christene van die toekoms sou beïnvloed.
Dit is belangrik om ag te slaan op die werking van die Heilige Gees in die gemeentes van Asiё. Die mense in Johannes se tyd het die werking van die Heilige Gees op ‘n spesifieke manier ondervind en die gemeentes wat in die 2000 jaar daarna ontstaan het en ook die kerke van vandag moet oplet daarna.
In elke brief staan daar; “hy wat ‘n oor het om te hoor moet luister” en ook “elkeen wat die oorwinning (overcometh) behaal sal ek gee van die boom van die lewe”. Dus elkeen wat die werkinge van die Heilige Gees ken sal weet dat diegene wat sondig was en dit afgelê het, die oorwinning behaal het. Deur die krag van gebed en ‘n persoonlike verhouding met Christus sal ons die oorwinning kan behaal.
Adam en Eva was nie toegelaat om van die “boom van die lewe” te eet nie. Hierdie boom het in die middel van die tuin van Eden gestaan. Eva was mislei deur die Satan. Sy het van die verbode boom geёet en ook vir Adam gegee. Hulle is mislei om God se bevele te verontagsaam. Die woorde “sal Ek te ete gee van die brood van die lewe” beteken dat elke Christen wat Nagmaal gebruik met die doel om Jesus se offer te aanvaar om sy sondes weg te was deur die bloed van die lam, en sy beste te doen om weg te bly van ‘n sondige lewensstyl, sal met die hulp van Almagtige God, die Ewige Lewe ontvang.
Die noem van die “boom van die lewe” aan die gemeente van Efese is belangrik want later in Op 22:2 word die “boom van die lewe” weer genoem, maar word dit in verband gebring met die 2e millenium in die tyd 1860-2004. Dan sal die Christene moet volhard in die tyd van die “diere” van die eindtyd. Ons sal dit later bespreek.


SMIRNA
Op.2:8-11 Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna:
So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het. Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort. Moenie bang wees vir alles wat julle gaan ly nie. Kyk die duiwel gaan party van julle in die tronk gooi, sodat julle in beproewing sal kom en julle sal 10 dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe en Ek sal julle die lewe as kroon gee.
Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees vir die gemeente sê. Die wat die oorwinning behaal sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.
Die stad Smyrna was die stad waar die Olimpiese spele gehou is. ‘n Indrukwekkende gebou met groot balkonne het as ‘n museum gedien. Daar was ook ‘n groot openbare biblioteek.
Christus het geweet dat die gemeente arm in aardse besittings was, maar hy beskou hulle as “ryk” . Die “sinagoge van Satan” kan moontlik die Gnostiese beweging wees, wat alle gelowe oor dieselfde kam wou skeer. Hulle wou meer ‘n filosofie bedryf as ‘n Christelike lewenswyse. God weet ook dat dit vir hulle en vir die gemeentes wat later sou kom, baie moeilik sal wees om vas te staan in die geloof in Christus Jesus.
Die gemeente van Smirna word gewaarsku oor vervolging wat sou kom. Uit die geskiedenis weet ons dat daar vervolging in Smirna was in die tyd 165-168nC Die woorde “tien dae” verwys na tydmeting.
Let wel. Openbaring se tydmeting kan net verstaan word wanneer die hele Openbaring verstaan word deur dit te lees van die begin tot die einde.
Ons kry nou in hierdie brief aan die gemeente Smirna, die eerste twee tydmetings. Die lengte van ‘n generasie (geslag) en die lengte van ‘n dag. Daar is twee metings van ‘n dag, maar die tweede sal ons bespreek wanneer ons by die 1260 dae kom
Jesaja 23:15 En in die dag sal Tirus vergeet word, sewentig jaar lank, soos die dae van een Koning./At that time Tyre will be forgotten for sewenty years. The span of a Kings life.
Dr. Janson het eers gedink dat Openbaring moontlik met die getal 70 werk, maar het later, toe sy by die tydperk 1860 tot 2004 kom, besef dit is 144 jaar en dus 72x2. Nou weet ons dat Openbaring met die getal 72jaar werk in die “fondasies van die generasies”. (Jesaja 58:12 Die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig)
Elke hoofstuk openbaar net ‘n sekere gedeelte van die tydmeting en so word die konstruksie van Openbaring stukkie vir stukkie opgebou.
Openbaring benader sy syfers soos op ‘n reuse telraam. Die “duisende” is ‘n eenheid, die “honderde” is ‘n eenheid en die “tiene is ‘n eenheid. 1260 is bv. 1000,200 en 60.
Openbaring dui deur die syfers plek en tyd aan. Die plek en tyd lê in die betekenis van die woorde van Openbaring soos dit in verband gebring word met die geskiedenis.
Later sal ons sien dat Openbaring die aarde verdeel in 3 dele . In Op.16:19 “die groot stad het in drie dele geskeur” . Die “groot stad” is die totale aarde wat deur kommunikasie handel dryf.
Openbaring gebruik die getal “10” omdat Smirna in een deel van die aarde is nl. Die Midde-Ooste. (onthou dit is die manier waarop Openbaring die aarde opdeel) Een nul (0) dui op een deel van die aarde. Twee nulle (00) dui op twee dele van die aarde en drie nulle (000) dui op drie dele van die aarde of die totale aarde.
As die nul van 10 weggeneeem word bly daar net die getal 1 oor. Dit is dus 1 dag.
Ons sal nou sien dat Openbaring in die brief aan Smirna aandui dat een dag bereken kan word.
So doen Openbaring dit:
1) Johannes is op Patmos in die tyd +/- 97nC
2) Die Geskiedenis dui aan dat daar vervolging van die Christene in Smirna was in die tyd 165-168nC.
3) Vanaf die tyd dat Johannes op Patmos was tot die vervolging was 72 jaar. 97+72=169.
4) 72 jaar is die fondasie(fondamente) van die geslagte in Openbaring (Jesaja 58:12 Die fondamente van die vorige geslagte sal jy oprig)
5) In 313 nC het die vervolging in die Midde-Ooste grootliks tot ‘n einde gekom met die Edik van Milan. Dit was 144 (72x2) jaar later.
6) 169+144=313
As hierdie bogenoemde tye verbind word aan die tyd wat Christus (Ek is die Alfa en die Omega) op aarde geleef het, dan werk dit uit op +- 72 jaar na die doop van Christus en die begin van Sy prediking, totdat Johannes op Patmos was. Onthou Openbaring lê klem op die eenheid van Christus met Sy kerk en daarom word die tye gekoppel aan die tyd wat Christus op aarde geleef het.
ONTHOU NOU DIE VOLGENDE TYDSBEREKENING:
26nC (doop tot 96-97nC (Patmos) = 72 jaar (fondasies van geslagte)
97nC tot 169(vervolging Smirna) = 72 jaar
169nC tot 313nC (staak vervolging) = 144 jaar (72x2) Dit is ook ‘n halwe dag in Openbaring
Dus vanaf 26nC tot 313nC = 288 jaar. Dit is 1 dag in Openbaring.
Ons kan nou sien dat “10” die “plek” een derde van die aarde aandui, want die aarde word in drie dele verdeel.
Dit dui ook “1 dag” aan wat 288 jaar is.
Wat van groot belang is, is die “kroon “ van die Ewige lewe wat diegene sal ontvang wat getrou is aan Jesus Christus se leerstellinge. Selfs deur vervolging en die dood. In Op. 4:10 plaas die ouderlinge hul “krone” voor die “troon van God” Dit is moontlik dat diegene wat gesterwe het vir hul geloof ‘n baie spesiale posisie in die Hemel sal beklee.
Die “tweede dood” word ook hier vir die eerste keer genoem. In Op. 20:14 word die woorde “tweede dood” weer genoem. (Ons sal dit bespreek met die ontleding van daardie hoofstuk)
Openbaring het ‘n unieke tydmeting en deur hierdie tydmeting ontdek ons die boodskap wat verskuil is in Openbaring.
PERGAMUM
Op.2:12-17 Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum:
So sê Hy wat die swaard met die twee snykante het: Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou en julle het nie julle geloof in My afgesweer nie, selfs nie in die tyd toe Antipas, my getroue getuie doodgemaak is, daar by julle waar die Satan bly. Maar ek het ‘n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Balaam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geёet en onsedelikheid bedrywe het. So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaiёte aanhang en dieselfde sondes doen. Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond. Elkeen wat kan hoor moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê: Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee en daarby sal Ek vir hom ‘n wit steentjie (stone) gee met ‘n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.
Net soos in die ander stede was Pergamum ook ‘n groot en indrukwekkende stad. Daar was ‘n reuse biblioteek wat 200,000 geskrifte bevat het. Die tempels van Zeus, Jupiter, Athene en Apollo die Griekse gode was daar. Christus is een met Sy kerk en Hy weet dat daar groot gevaar is vir Sy kerk waar die “troon van Satan is”. Dit was waarskynlik die groot standbeeld van die Roomse Keiser Domitianus. Dit is opgerig want hy wou sy eie kultus hê en hy het beveel dat die standbeeld vereer moet word. Antipas is daar doodgemaak. Antipas beteken “soos ‘n vader”. Dit was die tradisionele naam van die biskop van Pergamum. Later sal ons sien dat in die tyd van die ruiter op die rooi perd van die Apokalips wat die swaard gedra het , ook die tyd was dat die hoofde van Christelike kerke in Europa doodgemaak is. Later merk ons in Openbaring dat skeiding tussen Christene (broedertwis) lei tot oorlog. Die Christen nasies wat strewe daarna om die “dier” oor hulle aan te stel , sal gestraf word vir die dood van die Christelike martelare. Dit is die betekenis van die “swaard met twee snykante”
Nou moet ons weer luister wat die Gees sê: Diegene wat hulle bekeer (wegdraai van sonde) sal “verborge manna” en ‘n “wit steen” kry. Omdat dit die woorde van die Heilige Gees is, het dit te doen met die Nuwe Verbond, want die Heilige Gees is gestuur om die dissipels te troos na die Hemelvaart van Christus.
In die verbondsark is die “manna” gehou. Die “verborge manna hou verband met Op. 11:19 “en die tempel van God het oopgegaan in die Hemel en Sy verbondsark is gesien in sy tempel”. Die “verborge” betekenis van Openbaring lê in die meting van die “tempel van God”. Joh. 2:2 met hierdie tempel het hy egter sy liggaam bedoel. Die ark van die verbond het in die tabernakel gestaan . Die manna is aan die Israeliete gegee toe hulle in die woestyn was , op pad na die Beloofde Land. Hierdie “manna” het die Israeliete gevoed vir veertig jaar. Die figuurlike betekenis van die “verborge manna” vandag , is dat die Heilige Gees krag en kennis van die Skrif gee. Dit lei die Christene tot die oortuiging van die waarheid, in die tyd wanneer dit moeilik is om Christus se leerstellings na te volg Die Christene moet ook tussen ongelowige mense leef en werk. Vandag weet ons dat die woorde “tempel van God geopen in die Hemel (Op.1:9 en 11) verband hou met die meting van die tempel oor “drie en ‘n half dag”. Die woorde “troon” en “hemel het ‘n “nuwe” betekenis in die totale begrip van Openbaring. Dit verwys na die tyd na 2005, wanneer die tekens oor die koms van Christus direk van God se troon af sal kom. Dit sal ook in hierdie tyd wees dat die krag van die “dier” sterk sal wees en daarom gee God nuwe krag aan Christene deur insig van Openbaring.
Die woorde “en in die tempel het hy die ark van die verbond gesien,” (Op.11:19) het ‘n figuurlike betekenis. Wanneer ons hierdie woorde in Op. 11 lees ,weet ons dat daar 3 ½ dag in elke millenium gemeet word en dat hierdie woorde vergelyk word met die woorde wat Christus op aarde gepraat het. Die woorde van Christus het nou nuwe en kragtige betekenis bygekry. Soos wat al die tekens meer en kragtiger word sal die mense begin besef dat Jesus die Messias is en dat sy Wederkoms voor die deur is. Hierdie wete word verkry deur ‘n geloof in Christus en dat die woord van God die absolute waarheid is. Hierdie “nuwe verborge manna” voed die Christene geestelik in die laaste dae, net soos die manna die Israeliete gevoed het in die woestyn.
Dit het ook betrekking op die tydmeting van Openbaring wat aansluit by die vier kardinale tye in Christus se lewe op aarde. (Geboorte, tyd in tempel. Doop en kruisiging/opstanding)
Die simboliek van die “wit” is die kleur van die opgestane Jesus en “steen “ het betrekking op die sewe donderslae (Op. 10:4) wat ‘n argeologiese ontdekking in die Midde-Ooste is. Dit het ook betrekking op die Tempelberg in Jerusalem, waar Jesus gesê het dat nie een steen opmekaar gelaat sal word nie. (Mat.24:2) In Hoofstuk 10 sal ons verder navors oor die betekenis van “steen”.
“Nuwe naam” het betrekking op die nuwe verbond wat vervul is met die koms van Jesus Christus. Hierdie Christene is die wat oor 2000 jaar die leerstellings van Christus nagevolg het onder die nuwe verbond. Dit het ook ‘n addisionele betekenis. Wanneer die leёrs Jerusalem omsingel oor die besitreg van die tempelberg, sal die Christene weet dat Christus se woorde ‘n realiteit gaan word. In Op. 21:5 sê dit “Ek maak alles nuut”. Dit beteken dat die woorde van Christus en die profete nuut word met betrekking tot die geskiedenis van die Christene. Met die tekens gaan Christus se woorde in vervulling en dit word geskiedenis. Profesie wat klaar gebeur het word geskiedenis.


TIATIRA
Op.2:18 Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatire:
So sê die Seun van God, wie se oё soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou meer doen as tevore. Maar Ek het dit teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei My dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgods-offervleis te eet. Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. Kyk, ek gee haar aan ‘n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding – as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. Haar volgelinge sal Ek deur ‘n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. (dade)
Maar vir julle ander in Tiatire, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van Satan”, soos julle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. Hy sal met ‘n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. (28 Aug.2003)
Elkeen wat kan hoor moet luister na wat die Gees vir die gemeentes (meer as een) sê.
Die gemeente word geprys vir hulle dade, deursettingsvermoё en liefde en ook omdat hulle so baie doen. Die Christene wat nie volgens die Christelike lewensstyl leef nie kry ‘n baie streng teregwysing en waarskuwing, dat hulle baie swaar sal kry en terugbetaal sal word volgens hulle dade. Die filosofie, dat ‘n mens alle dinge moet probeer, goed of sleg, want slegs dan sou hulle kon kies watter rigting hulle vir hul lewe wou kies, was baie populêr in daardie tyd. (Sou dit dalk die “geheimenisse van Satan” wees)
Tiatire was ook ‘n groot stad waar veral die kleur van kleed- en weefstof ‘n belangrike nywerheid was. In hierdie brief word daar gewaarsku teen die mense wat die dade van die vrou Isebel aanhang. Sy het mense verlei tot seksuele immoraliteit en die eet van kos vir afgode. In daardie tyd veral was dit beskou as ‘n nie-christelike gewoonte. Daar was ook ‘n tempel buite die stad wat opgedra is aan ‘n profetes wat haar steun aan die samevoeging van gelowe gegee het. Die gemeente word gewaarsku dat hulle nie al hierdie gewoontes moet aanhang nie en getrou moet bly aan die voorskrifte van die Christelike geloof. Deur die woorde “totdat Ek kom” dui aan dat die boodskap ook vir vandag is.
Die wat oorwin sal met Jesus oorwin. Jesus is die môrester. (Op. 22:16) Dit is interessant dat Openbaring se tydmeting volgens hierdie vertolking, eindig in 2004. As Openbaring uitgespeel is, sal die Wederkoms plaasvind. Na 2005 is dit die tyd wat nie gemeet kan word nie en ons weet nie hoe lank daardie tydperk is nie.
In 2005 is daar nuwe en bykomende inligting. Die “môrester” het ‘n nuwe betekenis. Dit sal volledig bespreek word met die opening van die 6e seёl.
Op 28 Aug. 2003 het die planeet Mars baie naby aan die aarde verby beweeg. Dit was die naaste aan die aarde die afgelope 60,000 jaar. Die planeet Mars het soos ‘n baie helder môrester vertoon, omdat Venus nog onder die horison was. Dit is veral belangrik vir die Christene van vandag, want met ons kennis van die beweging van die sterre en planete in die 21ste eeu, kon ons vasstel dat die planeet weer so naby sal wees oor 287 jaar , in 2287. Dit is ‘n bevestiging van die tydmeting dat ‘n dag 288 jaar is. In Openbaring is “’n duisend jaar” ook ‘n belangrike tydmeting. Ons kan dit dus so lees. Twee duisend jaar plus een dag. 2000+287. Dit is wat Openbaring bedoel as dit sê “en die hemel het weggewyk soos ‘n boekrol wat toegerol word /and the heaven departed as a scroll when it is rolled together”(Op6:14) Dit beteken dat die boekrol met die seёls klaar gelees is in die tyd van die “hemel”, wanneer die tekens direk van die hemel en God se troon af sal kom.


Follow Ups:



Post a Followup

Name    : 
E-Mail  : 
Subject : 
Comments:


[ Follow Ups ] [ Post Followup ] [ How Near Armageddon Forum ]