HOW NEAR
ARMAGEDDON - By Elana Janson

Resensie van die boek How Near Armageddon deur Elana Janson ( JL van Sckaik religieuse boeke) soos dit verskyn het in die Sondag-koerant, Rapport op 30 April 2000.

Resensie geskryf deur Kobie Coetzee, 'n predikant van die Presbiteriaanse kerk in Randburg, Suid-Afrika.

Mense sal verskil oor diè voorspelling van eindtyd.

 Die titel van Elana Janson se How Near Armageddon is 'n verwysing na Openbaring 16:16. Armageddon, in Hebreeus berg van Megiddo, is die plek waar - volgens Openbaring - die finale veldslag tussen die magte van Christus en Satan in die eindtyd sal plaasvind.

Met die eindtyd as tema en haar unieke vertolking van die Openbaring van Johannes het Janson bybellesers behoorlik aan die gons. Naas Openbaring betrek sy ook die Dooie See-rolle in haar vertolking. Die verwysing aan die begin van Openbaring na die seëls van die boekrol het haar op die gedagte gebring dat daar moontlik 'n verband tussen
Openbaring en die Dooie See-rolle bestaan.

Met haar agtergrond as hoogleraar in die geskiedenis was dit vir haar makliker om die sleutel te ontdek waarmee sy die "Openbaring van Johannes" met die verloop van die wêreldgeskiedenis sedert Christus kon korreleer. Dit het haar tot die gevolgtrekking laat kom dat Openbaring sodanig vervul is dat die eindtyd naby is.

Stap vir stap bring sy die geskiedenis van die afgelope tweeduisend jaar in verband met die "Openbaring van Johannes". Selfs as die leser nie met haar basiese benadering saamstem nie, maak die rykdom aan geskiedkundige gegewens die boek die moeite werd om te lees.

Die gedagte dat die eindtyd naby is, word vir haar versterk deur Israel se terukeer na die beloofde land, asook die verwerping van die Christendom en sy morele waardes deur sekere nasies en politieke leiers. Sy is oortuig dat nie net hierdie tekens nie, maar die geskiedenis van die wêreld in Openbaring gepredestineer is.

Na 'n persoonlike belewenis waarin sy glo dat God haar beveel het om bekend te maak wat sy weet, het sy die reusetaak aangepak en in die geskiedenis begin delf om te sien of sy die geskiedenis van die afgelope 2000 jaar met Openbaring kan korreleer. Janson is oortuig dat God deur die regte vertolking van Openbaring wou hê dat die gelowiges moet weet dat die eindtyd naby is.

Hierdie korrelasie van Openbaring met die geskiedenis van die afgelope 2 000 jaar het haar oortuig dat die finale slag te Armageddon in die omgewing van of kort na 2004 sal plaasvind. ( Interessant is dat ons ook volgens die verlore Maja-stam se kalenders in die laaste tydperk leef wat volgens hulle op 22 Desember 2012 deur 'n groot katastrofe tot 'n einde sal kom.)

Dat How Near Armageddon 'n groot werk is wat baie navorsing geverg het, is duidelik. Almal sal egter nie met Janson se benadering en uitlegmetode saamstem nie. As Openbaring die geskiedenis van die die wêreld predestineer, beteken dit dat die mens geen vryheid het nie omdat hy deur 'n predestinasie gedoem is.

Ook die aanname dat sekere besluite op sekere konsiles onder die leiding van die Heilige Gees geneem is, kan nie sonder meer aanvaar word nie. Wie besluit wat onder leiding van die Heilige Gees geneem is en wat nie?

Verder meld sy self in haar inleiding dat openbaring deur sommige net beskou word as 'n troosboek vir die vervolgde Christenen van die eerste eeu nC.

Dit is dus nie vir almal 'n kalender vir die 2000 jaar na Christus nie.

Met How Near Armageddon geld dus die ou spreekwoordvan soveel hoofde, soveel sinne. Tog bly dit 'n groot werk wat deur baie bybelstudente met vrug gelees kan word.

Die boek is keurig versorg met netjiese diagramme en kaarte wat dit vir die leser makliker maak om haar betoog te volg.

 Back to ReviewsEnglish Translation

Tafelberg logo