Afr. lesings oor Openbaring.

[ Follow Ups ] [ Post Followup ] [ How Near Armageddon Forum ]

Posted by Susanne Baker on April 14, 2010 at 16:45:55:


dr. Janson, ek het lesings opgestel met u twee boeke en artikels op hierdie website as bron. Ek sal bly wees as u daardeur lees om te sien of ek dit korrek verstaan. Ek dink dit sal ook vir ander Afrikaanse lesers tot hulp wees. Ek heg die eerste lesing aan.
Groete
Susanne Baker.
Hfst.1 - Openbaring van Jesus Christus

Mag ons motto Kol 2:2-3 wees. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenisse kan ken. Die geheimenis is Christus en in Hom is al die veborge skatte van wysheid en kennis te vind.
Aan die einde van Openbaring lees ons :
Ek betuig aan almal wat hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe staan.
Waarom sou daar so ‘n sterk aanmaning gegee word? Die rede hiervoor is dat elke woord bydrae tot die totale tydmeti ng van Openbaring. Dit sou nie anders bekend gemaak kon word nie, en sou vir ewig verborge gebly het.
Op. 1:1 Wat hier volg is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die Openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe Sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien.
Op 1:2 Johannes is die getuie van wat God gesê het en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het.
Op.1:3 Geseёnd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.
Johannes vertel hier dat Openbaring die getuienis van Jesus Christus is. Dit is aan Hom gegee deur die Almagtige God, sodat Sy dienaars kan kennis neem daarvan en ook wanneer al hierdie dinge gaan gebeur. (Amos 3:7)Wanneer ons Openbaring lees moet ons besef dit is ‘n profesie(dinge wat nog gaan gebeur) wat die geskiedenis van die kerk oor ongeveer 2000 jaar aandui. Wanneer die laaste hoofstukke van Openbaring gelees word, sal ons besef dat Jesus Christus se woorde wat Hy op aarde gespreek het, gebruik moet word om Openbari ng te verstaan en daarom is alles wat Christus en die profete gesê het die ABSOLUTE WAARHEID.
Omtrent elke keer as Jesus gepraat het , het hy met die woorde “Ek vertel vir julle die waarheid” begin. Daarom weet die Christene dat Jesus se woorde die absolute waarheid is.
Sodra Openbaring verstaan kan word moet ons besef dat Christus se Wederkoms naby is, want Openbaring is dan feitlik verby.
Die woord binnekort beteken dat ‘n kort tydjie nadat hierdie profesie aan Johannes gegee is, sal God-drie-enig intree in die geskiedenis en dit lei in die rigting wat Hy vir Johannes aangedui het.
Die woord binnekort het ook ‘n tweede funksie. Die begin van die hoofstukke in Openbaring dui dikwels die einde van die periode eerste aan en dan volg die detail van die tydperk.
Dit beteken ook dat sodra Openbaring verstaan word, sal die eindtyd naby wees. Dit is vanaf 2001, want toe kon enige een wat wou al die gegewens op die internet kry. Die wat soek, vra en klop, sou dit vind.
Baie woorde in Openbaring het ook ‘n uitgebreide of vermeerderde betekenis. So kry ons die woord “getuig” In 1 Joh.5:7 word gepraat van “drie wat getuig. Die Vader ,Seun en Heilige Gees. Hierdie drie is een. Dit kan dan verder uitgebrei word deur Joh. 1:1. In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was God. Johannes het dus verstaan dat Jesus altyd by God was (Jesus Christus was die Woord wat vlees geword het) Vanaf die skepping was Jesus Christus by God.
“Ter harte neem” is ook ‘n woord met ‘n uitgebreide betekenis. In Engels is die woord “keep” gebruik. Dis soms makliker om die Engels te gebruik want dit is ‘n direkte vertaling (KJV) en makliker om te korreleer met woorde in die Skrif en ook aan Grieks en Hebreeus. Die vrou wat aan Jesus geraak het word ook aangespreek met die woorde “Blessed are they that hear the Word and KEEP it. Dit is ook gekoppel aan die woorde “want die eindtyd is naby” of in Engels “the time is at hand”
Dit lyk asof daar ‘n indikasie is dat ‘n vrou wat naby die eindtyd leef die Wederkoms sal aankondig. Ter harte neem , beteken ook Christene wat werklik glo dat Christus die Seun van God is en glo wat Christus beveel en dit doen deur hulle denke en dade.
Op.1:4 , 5 &6 Van Johannes, aan die sewe gemeentes van die provinsie Asiё. Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste voor Sy troon en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur Sy bloed van ons sondes verlos en ons Sy Koningkryk gemaak, priesters vir God Sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in ewigheid ! Amen
Hierdie gemeentes is in Klein-Asiё of Midde-Ooste. Dit dui ook die eerste van die afbakening van die aarde in 3 dele. Verre-Ooste, Midde-Ooste en Weste. In die eerste millenium het die mense ook nog nie die hele aarde verken nie en was hulle onbewus van die verste dele van die aarde. Op. 16:19 praat ook van “die groot stad wat in drie dele verdeel was” Later sal ons sien dat die groot stad die hele aarde aandui.
Openbaring dui ook aan dat die Seun altyd saam met die Vader regeer het oor die aarde. Hy is baie nou verbonde aan die Vader en die Heilige Gees wat vir ons as trooster gestuur is en ook altyd deel was van die Godheid(God drie-enig)
Hierdie boodskap aan die kerke in Asiё word gestuur deur Jesus Christus wat opgestaan het (Johannes was op Patmos +-70 jaar na Christus se kruisiging). Hy gaan terugkom en hy kommunikeer reeds met Sy volgelinge deur die Heilige Gees.(2Pet.1:20-21)
“Sewe Geeste voor Sy troon” beteken die verbintenis van die Vader, Seun en Heilige Gees met mekaar. Die getal 7 dui totaliteit of volmaaktheid aan. Die simboliek van die getal 7 dui op die vermeerdering van die brood. Dit het betrekking op die totale tydperk tussen Christus se 1ste koms en Sy 2de koms. Hy is die “brood van die lewe”. Dit dui ook op die nagmaal en dus op Sy kruisiging. Die 7 brode het nie net ‘n paar mense gevoed nie, maar 4 duisend.(Mat.15:35-38) Dit dui die vier hoeke van die aarde aan asook die totale tydperk wat Jesus se boodskap Sy volgelinge sal voed. Die boodskap aan die 7 gemeentes was dus nie net vir diegene direk nadat Johannes die boodskap gekry het nie, maar ook vir almal tot met Sy Wederkoms. Die getal 7 kom sewe keer in die briewe aan die gemeentes voor. Die woord “gees “ kom ook sewe keer voor in ander hoofstukke van Openbaring Die rede hiervoor is dat die Heilige Gees almal lei wat gedoop is in water en wie ook Jesus Christus as die lam van God beskou wat vir ons sondes gesterwe het. Die Heilige Gees was dus teenwoordig in die sewe gemeentes en soos wat die gemeentes uitbrei en vermeerder sal die heilige Gees ook hulle dien en lei soos wat hulle oor die hele aarde versprei. Waar die woord “gees” in ander hoofstukke gebruik word sal ons sien dat dit duidelik gemaak word deur spesifieke tydmetinge. Die Heilige Gees is die enigste een wat dit aan ons duidelik kan maak. Sonder die Heilige Gees sou ons nooit die tydmetinge van Openbaring kon verstaan het nie.
“troon” en “hemel” het ook figuurlike of simboliese betekenisse. Die twee woorde het te doen met die heel laaste tydmeting van Openbarin g . Ons kan vanaf 2005 terugkyk in die geskiedenis en sien hoedat God die nasies gelei het en in sekere rigtings gestuur het. Vanaf 2005 en daarna sal die tekens direk van God se troon af kom en is dit moeilik om vooraf te bepaal wat hierdie tekens is en wanneer en waar die tekens sal verskyn.
Syfers of getalle in Openbaring het te doen met meting van tydperke vanaf die Opstanding tot die Wederkoms. Christus was die eerste geloofwaardige getuie, maar die totaliteit van die vers dui ook daarop dat dit gaan oor al die getuies wat die woorde van Christus sou glo as die waarheid, vanaf die Opstanding tot die Wederkoms. Later noem Openbaring 2 getuies. Dit is hulle wat net soos Christus ‘n martelaarsdood sou sterf en wat die offer van Jesus Christus aangeneem en verkondig het.. Die getuies sal getuig in die tydperk wat te doen het met “twee”.Die eerste “getuie” en die “twee getuies” word saamgevoeg om ‘n fyngeweefde eenheid te vorm. Openbaring is Goddelik saamgesnoer deur sy woorde. Omdat Christus die eerste getuie is wat opgestaan het , sal dit ook een van die kardinale tye wees waaraan Openbaring gemeet word. Openbaring kan net verstaan word deur die meti ng van tyd. Die vier tye van Christus is;
(a) geboorte+-4-7vC (b)tyd in tempel +- 8-12nC (c) doop +- 26-30nC (d) kruisiging en opstanding +-29-33nC
Die woorde die heerser oor die konings van die aarde, in Openbaring, dui aan dat Christus beheer oor die konings van die aarde het en hoe Hy ook Sy hand oor die Christelike Konings van die aarde gehou het. Openbaring dui ook aan dat Openbaring se hele samestelling gaan oor die konings van die aarde. Hierdie frase sal herhaal word in Openbaring en gaan oor al die konings van die aarde in die 2 milleniums+ . Al die nasies is dus direk onder Christus se beheer, al dink hulle hulle beheer hulself.
Die woord bloed, verbind ons as navolgelinge van Christus en aan Sy liefde en die nagmaal. Jesus het uit liefde vir ons Sy bloed gestort en ons herdenk dit en is deel van Sy liggaam deur die gebruik van die nagmaal.
Die woorde koning en priester, beteken ook dat elke Christen wat ‘n gehoorsame lid van Sy liggaam is, ook priester en koning in die kerk is. Hy word regeer deur die voorskrifte van Jesu s Christus. Die Christene van vandag leef onder nie-Christelike regerings en dit sal vir hulle baie swaar wees om die leerstellings van God na te volg. Dit is waarom Openbaring se seёls in hierdie tyd “oopgemaak” is, sodat die Christene in die tyd voor die Wederkoms, nuwe moed kan kry om te volhard tot Jesus kom. Dit dui ook daarop dat Christus wil hê dat die regering van ‘n land Christus moet dien. Hierdie woorde verwys na al die konings van die aarde oor die 2 milleniums.
Krag is ‘n woord wat dikwels in Openbaring voorkom en is van die allergrootste belang in die tydperk na 2000. Hierin openbaar God Sy asemrowende almag en grootheid en krag aan die mense. Hierdie woord is in die nuwe vertaling met “vermoё” vervang. Hierdie”krag” van God verwys na Sy almagtige beheer oor die hele uitspansel (Op16:8) Dit het ook betrekking op die “skale van die grimmigheid van God”
In Op 13:14 sien ons dat dit verwys na kernkrag (wondertekens van die mens). Dit gee in die twintigste eeu die mens die vermoё om kernwapens vir oorlog te ontwikkel. Hierdie betekenis van die wraakbakke sal deur middel van tydmeting in Openbaring vasgestel kan word. Veral deur die woorde en die herhaling van die woorde. In Engels word dit miskien beter verwoord. “power” verwys na “fission power” (atoombom) en “fusion power” (waterstofbom)
Vir ewig en ewig, verwys na Christus se heerskappy. In Engels kom die woord “dominion” voor. Dit is ‘n verwysing na die volgende gedeelte in die Bybel: Ps. 145:13 Thy dominion endureth throughout all generations.
Op 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat hom deurboor het, en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyd weeklaag. Ja, dit is seker.
Hier, sommer aan die begin van Openbaring sien ons dat Openbaring gaan oor die Wederkoms! Almal op aarde sal besef dat Hy die Messias is, en sodra Openbaring verstaan word sal Sy koms naby wees.
Dit verwys ook na die laaste hoofstukke van Openbaring en dit het betrekking op die dood van Christus(deurboor) Dit het dus te doen met die tydperk van Sy dood (29-33nC)
Volke van die aarde, verwys na diegene wat in die eindtyd op hul aardse besittings staatgemaak het vir verlossing en beskerming. Hulle sal “weeklaag” omdat God wraak gaan neem oor die dood van Christene. Dit is diegene wat probeer het om Sy boodskap te vernietig.
Die eerste tydmeting wat vasgestel kan word uit vervolging is die tyd toe Johannes op Patmos was omdat hy as gevangene na Patmos toe gestuur is. Dit is die tyd 96-97nC.
Jesus Christus is met ‘n wolk weggeneem en sal net so weer terugkom. Almal sal Hom sien, ook diegene wat probeer het om die boodskap van verlossing deur Jesus Christus te ondermyn of te vernietig.
Op1:8 “Ek is die Alfa en die Omega” , sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.
Die alfa en die Omega is die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet. Hier het ons nou direk met afbakening te doen. Dit beteken die tyd word nou afgebaken, vanaf Christus se geboorte tot by Sy wederkoms. Dit beteken daar is ‘n simboliese begin en einde.
Die woord “begin” het ook ‘n simboliese betekenis en verwys daarna dat Christus vanaf die skepping by God was en deel van God-drie-enig was.(Joh.1:1 en 1:14)
Op1:9 Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het.
In die geskiedenis was Johannes op Patmos in die jare 96-96nC. Patmos is ‘n eiland geleё in die Middelandse see. Dit is dus in die Midde-Ooste. Dit het ook ongeveer 100 jaar na die geboorte van Jesus plaasgevind. Openbaring meet ook 3 ½ dae in elke millenium en dit meet vanaf 4vC tot 2004. Hoekom 2004? Dit was die jaar toe God aan Dr. Jansen gewys het wanneer die groot aardbewing in Sumatra sou plaasvind. Hy het vyf jaar voor die gebeurtenis vir haar die leidraad gegee en sy kon dit toe bereken. Vandag weet ons dat Christus gebore is tussen 7-4vC. Dit is hoekom die 3 ½ dag hier as maatstaf moet dien. Hierdie tydmeting en die volgende paar sal almal geïnkorporeer word in die 12 tydmetings van Openbaring.
Openbaring dui hier ook aan dat verdrukking (tribulation) beteken dat Christene ly vir hulle geloof.
OP.1:10 Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van ‘n trompet, ‘n stem hoor sê: “Skrywe wat jy sien in ‘n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes; Efese, Smirna, Pergamum, Thiatire, Sardis, Filadelfia en Laodisea. Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien en tussen die lampe, iemand soos die Seun vanGod.
Johannes word aangesê om neer te skryf wat hy sien. Hier is meer betekenis in hierdiedie vers verborge. Tydmeting, rigting, plekmeting ens., word hier aangedui. Groter betekenis moet dus aan die woorde geheg word.
Die “dag van die Here” dui op Sondag. Die dag toe die Here opgestaan het uit die dood. Ons kan dus hier aflei dat die meting van ‘n “dag” gemeet moet word vanaf die opstanding van Christus.
Gees – hierdie is die eerste plek van die 7 plekke waar die woord Gees (Spirit) voorkom. Dit is buiten die kere dat die woord voorkom in die briewe aan die sewe kerke. Hier sien ons dat die woord Gees en die woord dag verbind is aan mekaar. Dit is slegs deur die Goddelike Visioen wat Dr. E. Jansen gesien het, waarmee sy die meting van ‘n “dag” kon verklaar of uitwerk. Ook deur die Gees kan mense nou weet dat die woord “dag” dui op ‘n periode van tyd.
Die woord “stem”(voice) en “trompet”(trumpet) verwys na die kommunikasie van God met die mens. Ons sal dit ook volledig bespreek by die 7 trompette.
Kyk hoe wonderlik dui Openbaring “plek” aan. Johannes staan op Patmos en die Heilige Gees gee die Profesie. Nou sien ons hoe belangrik dit is dat geen woord verander is nie. Die woorde “voor en agter” dui in die Ou Testament Oos en Wes aan. Die Jode het altyd met hul gesigte na die Ooste gestaan as hulle rigting wou aandui. Voor is dus Oos en agter is dus Wes. Hy staan op Patmos in die Midde-Ooste. Hy kyk na die Verre Ooste. Wanneer hy omdraai kyk hy na die Weste. Die simboliese betekenis is dat die Openbaring van Jesus Christus vir alle Christene oor die hele wêreld is. Dat Sy wederkoms naby is , is vir alle Christene om te weet en van kennis te neem.
In Op 1:20 word daar simbolies verwys na die 7 staanlampe as die 7 kerke. Die woord “agter” verwys dus na die verspreiding van die evangelie in ‘n Westelike rigting en dan ook oor die hele aarde. Volgens die Geskiedenis is dit korrek. In vers 20 sien ons dat die 7 lampe die 7 kerke is. Dit dui op die eenheid van Christus met Sy kerk.

Op1: 14 &15 Hy het ‘n lang kleed aangehad en ‘n goue band om Sy bors gedra. Die hare op Sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en Sy oё het soos vuur gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in ‘n smeltoond gloei en Sy stem soos die gedruis van ‘n groot watermassa.
Die woorde Sy oё het soos vuur gevlam, beteken dat Hy wel een is met Sy kerk, maar dat Hy iets dophou. Wat is dit wat Hy dophou? Dit is die lewens van die Christene. Die simbool van vuur word in Op 14:18 gebruik om die verdrukking van die Christene en die oordeel oor diegene wat die Christene leed aan doen , aan te dui.
Die woord “tussen” (midst), is ‘n baie belangrike woord met baie simboliek daaraan verbonde. Hou dit in gedagte, want ons gaan nog dikwels daarna verwys.
Die woord “kleed” verwys later in Openbaring na die tyd toe God ingegryp het in die geskiedenis van die kerk.
Openbaring dui baie duidelik kleur in hierdie verse aan. Dit word later verbind aan die kleure van die edelgesteentes van die Nuwe Jerusalem. Kleure word later gebruik vir vertolking. Openbaring gebruik kleur om aan te dui dat daar ‘n band is tussen die Christen se lewe op aarde en Christus . Openbaring verbind die lewe op aarde met die lewe na die dood in die Nuwe Jerusalem. So sal hierdie kleure van die Nuwe Jerusalem weerkaats op sekere tye in die geskiedenis van die kerk.
Die kleure van die aarde - sneeu, vuur, geelkoper, water. Dit is belangrik om te sien hoe Jesus verbind word aan die aarde deur hierdie kleure. Later sal ons sien dat hierdie kleure verbind word met die kleure van die vrugte (twelve manner of fruits). In die laaste 144 jaar 1860-2004 sal ons sien dat die tydmeting baie te doen het met die mens wat sy talente in die “aarde” begrawe. Die Christelike nasies het in daardie tyd weg beweeg van die Christelike konings, priesters en Christelike lewenstyl. Die Christelike konings regeer nie meer in daardie tyd nie, maar die massas(meerderheidsregering/majority rule). Jesus bewys egter deur die feit dat Hy in aardse kleure versimboliseer word, dat Hy steeds met Sy kerk is in tye van verdrukking. Dit is ook die tyd waarin die mens maklik mislei word. Daar sal egter altyd diegene wees wat hulle “eerste vrugte” aan Christus as ’n geestelike gawe sal bring. Die mense van die aarde se werkswyses is werke in die sneeu, in smelterye waar minerale wat uit die aarde gehaal word , gesmelt word, myne en die wat werk op see, riviere en damme.
In die Ou Testamens was die “eerste vrugte” aan God geoffer. Jesus is nou in die hemel, maar simbolies en deur die Heilige Gees is Hy altyd by diegene wat Hom eer en veral vanaf 1860-2004 en daarna wanneer Hy Homself weer aan die wêreld bewys deur Sy magtige engele.
Daar is 12 tydmetinge waarop die totale vertolking van Openbaring gegrond is. Die kleure word gebruik om reeds die beginpunt en die eindpunte van die totale tydperk van Openbaring aan te dui. Die totale tydmeting van Openbaring pas in ‘n tydskonstruksie van ongeveer 2008 jaar. Daarna begin die magtige engele weer om die magtige dade van Christus aan die mense op aarde te toon. Die beginpunt is die jaar van die geboorte van Jesus Christus.
Die jaar 216nC is die tyd van die eerste tydmeting en word ook met die woord “kleed” identifiseer. Dit is ook die tyd van die 1e van die 7 donderslae. Die laaste tyd wat in Openbaring aangedui word , word uitgedruk in die woord “goud”(Op 21:18-19)
Op1:16 In Sy regterhand het Hy sewe sterre gehad en ‘n skerp swaard met twee snykante het uit Sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.
Die sewe sterre word later verbind met die woord “mond” en dit word ook weer verbind met die woord “swaard” Ons sal dit later bespreek. “Uit Sy mond kom ‘n swaard met twee snykante”
Die woord “son” word altyd aan Jesus Christus en Sy koms verbind. Die tydmeting begin by Sy geboorte. Die profesie oor die koms van die Messias vind ons in Mal 4:2 Maar vir julle wat eerbied het vir My Naam, sal die son van geregtigheid opgaan met genesing in Sy vleuels./ But unto you who fear My name shall the Sun of righteousness arise with healing in his wings.
Op 1:17 Toe ek Hom sien, het ek by Sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met Sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie., dit is Ek, die eerste en die laaste, die lewende. Ek was dood, en kyk, Ek lewe tot in alle Ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk
Regterhand – Omdat Johannes ‘n Christen is en die boodskap van Christus moet uitdra, word hy as Christus se regterhand beskou. Dit word ook vandag van alle Christene verwag, wat in die tyd lewe soos vandag, in ‘n samelewing met nie-Christelike wette , dat hulle volgens die voorskrifte van Christus moet lewe.
Christus deel hier vir Johannes (wat dit weet, want hy het Jesus met sy eie oё gesien) en al die geslagte na hom mee dat Hy lewe. Dit is veral van toepassing vir die Christene van vandag, wat van oraloor gebombardeer word met die idée dat God nie regtig bestaan nie. Hierdie boodskap dat Hy lewe kom dus direk van die Drie-eenheid af. Vandag is dit vir ons van die allergrootste belang, want slegs ‘n lewendige Christus kon vir Johannes die boodskap van Openbaring gegee het en ook nog met verborge tydmeting bepaal wat vorentoe in die geskiedenis sou gebeur. Veral wat op 26 Des 2004 gebeur het. Geen mens kan 2000 jaar vooruit bepaal wat moet gebeur nie, slegs God-drie-enig kan dit doen.
Hy wil ook vir die Christene vertel dat Hy in beheer is van die bose magte wat in die eindtyd losgelaat sal word en dat geen Christen bevrees hoef te wees nie. As jy as Christen ‘n volgeling van Christus is en net Sy wil doen, hoef jy nie bang te wees om te sterwe nie, want Christus het die dood oorwin en in Hom het jy dus ook die dood oorwin en hoef jy nie te vrees vir die bose magte nie.
Later sal ons sien dat die “vaal perd” aan die jaar 1947 verbind word en dit het ook te doen met die dood en die doderyk. Weereens sien ons hoe Openbaring jaartalle verbind met die woorde van Openbaring. Onthou dat Christus die Nuwe Verbond met Israel vervul het. Die Nuwe verbond het in Israel, met Israeliete begin. Israeliete het ook die hele verlossingsboodskap van Christus begin versprei. Vanaf die Midde-Ooste, na die Weste, en die Ooste en daarna na die uithoeke van die aarde. Die terugkeer van die Israeliete na die Midde-Ooste het in 1860 begin en versnel na die wêreldoorloё. In 1948 het hulle weer ‘n nasie geword. Dit is een van die tekens van die eindtyd. Hierdie terugkeer van die Israeliete is die oorsaak van die konflik in Jerusalem vandag. Die gelykstelling van gelowe het toe ook begin en dit sal die dringende boodskap van Christus aan die nageslag, ondermyn. Ons moet onthou dat enigeen wat die kerk van Christus ondermyn, ondermyn ook die boodskap van Christus as die enigste verlosser. Die Israeliete soos hulle vandag is, erken nie dat Christus die Seun van God is nie en hulle erken ook nie die offer wat Hy gebring het nie. Christus het net een maal gesterwe en Hy gaan nie weer ‘n keer spesiaal vir die Jode sterwe nie. Elke Israeliet, trouens elke mens op aarde het ewe veel potensiaal om deel te word van Christus se liggaam. Hulle enigste keuse is of hulle God se offer aanvaar of verwerp. Tot op hede verwerp hulle dit nog.
Christus het geweet dat die geskiedenis so ver gevorder het, dat die mens nou Openbaring sal kan verstaan. Hy het ook geweet dat dit die tyd van die “vaal perd” is. (1947+) Die Christene sal bang wees. Hulle wat in nie-gelowige lande vervolg en doodgemaak word, moet besef dat God wraak sal neem oor die dood van elke Christen. Die mag van die duisternis sal nie die Christene in hierdie lewe of die lewe wat kom kan vernietig nie (Op 18:20). Daarom moet ons gedurig God se leiding soek en bedag wees op die misleiding wat in die eindtyd gaan plaasvind. Slegs by Christus kan ons skuiling vind.
Op 1:19&20 Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur. En die verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampe: Die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes, en die sewe lampe is die sewe gemeentes.
Wat moet Johannes opskrywe? Die dinge wat hy gesien (visioene)het.
Die dinge wat nou daar is (7 gemeentes)
Wat hierna gaan gebeur (geskiedenis)
Verborge(mystery)- Dit verwys na die einde van die eindtyd , wanneer die verlossingsboodskap oor die hele wêreld versprei het en die tyd van die heidene(gentiles) verby is. Rom 11:25 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie; dat die verhardi ng ten dele oor Israel gekom het, totdat die volheid van die heidene ingegaan het./ For I would not brethren that you be ignorant of this mystery, lest you should be wise in your own conceits; that blindness in part is happened to Israel, until the fullness of the gentiles be come in. Die tyd van die heidene (gentiles) is ook die laaste tydmeting in Openbaring.
Verborge betekenis van die sterre in regterhand verwys ook na die een wat van die suide kom wat die verborge betekenis van die sterre sal verstaan. Regterkant is suid.
Die sewe sterre verwys na die leierskap van die 7 kerke van die Midde-Ooste. Dit is ook gekoppel aan die 12 sterre (Op12:1) wat ook 12 engele van die Christelike kerk is na die tyd van Johannes op Patmos. Dit verwys na die ontwikkeling van die Christelike kerke en hoe dit verseёl is tot die tyd 1996, toe die seёls losgemaak is. Dit was reeds opgeskryf deur Johannes, maar eintlik deur Christus en toe verseёl deur die geskiedenis. In 1996 het Dr. E. Jansen opdrag gekry om die seёls oop te maak.
Die verborge betekenis van 7 sterre is 7 tydmetings. Daar sal later nog 5 tydmetings bykom sodat die totaal op 12 te staan kom. Dit is die totale hoeveelheid tydmetings in Openbaring.


Follow Ups:



Post a Followup

Name    : 
E-Mail  : 
Subject : 
Comments:


[ Follow Ups ] [ Post Followup ] [ How Near Armageddon Forum ]